Christene het verskillende opinies oor vas, somige van hierdie het geen fondasie in die Skrif nie! Dit spruit uit menslike tradisies en ander bronne buiten die Bybel. Die hoof invloed in die kerk oor die jare, buiten die Bybel, is Platonisme – die leer van Plato, ‘n student van Sokrates, en ‘n onderwyser van Aristoteles.
Die groot teken van Plato se onderrig, en van die meeste van die Griekse filosowe, was 'n baie ernstige onderskeid tussen (aan die een kant) enigiets wat materieel was, alles wat uit materie en dinge gemaak was, en (aan die ander kant) wat hulle 'gees' genome het, alles wat spookagtig, of siels, of suiwer geestelik is. Behalwe vir die groot onderskeid tussen materie en die gees, het hulle alles wat nie gees was nie, as boos gesien.
Hulle het letterlik gedink dat enige iets materieëls, fisiese dinge van die heelal, op sigself goddeloos is; en vir enigeiets om goed te wees, moes dit gees wees. Goeie goed kon nie uit tasbare materie uit bestaan nie. Dit het gelei tot 'n baie duidelike onderskeid tussen liggaam en siel, 'n kontras wat vroeg in die geskiedenis van die Griekse filosofie begin het.Jy kan hierdie Griekse denkwyse raaksien in Paulus se preek op Mars Heuwel. Hy het ‘n uitnodiging gekry vanaf die filosowe om sy boodskap te deel. Hierdie was deel van sy boodskap: Handelinge 27:31 “Want Hy het 'n dag bepaal waarop Hy die wêreld in regverdigheid gaan oordeel deur 'n Man wat Hy daarvoor aangewys het. En Hy het dit aan almal bevestig deur Hom uit die dood te laat opstaan.” Hier het hy die Griekse filosowe se belangstelling verloor. Vir hulle is die liggaam boos en die laaste dinge wat hulle wil hê is dat die liggaan weer opgewek moet word. Hulle hou nie van die liggaam nie! Hulle sou eerder geeste wou wees wat vir ewig en altyd in die ruimte ronddryf. Hulle wil geen opstanding hê nie. Hulle wil hê dat hul siele vir ewig en altyd moet voortduur, en dit is vir hulle die belangrikste. Hulle lag vir Paulus sodra hy oor die opstanding noem.
Hierdie denkwyse het oor gespoel in die vroeë kerk, en het tot ‘n mate daar gebly! Ons kan di took raaksien in die Rooms -Katolieke kerk. Selfs die huwelik is vir iemand met hierdie denkwyse boos. Hoekom? Wel, omdat die huwelik fisiese plesier daarin het, dan moet dit vuil wees. Niks in die flees kan Heilig wees nie. Die vroeë kerk kon nie eers die idee verdra dat Maria ooit kinders kon hê nie! En vandag, regoor die wêreld, vind ons in verskeie gelowige, baie mense wie baie lief is vir vas. Oor die eeue sien ons hoe mense van verskeie godsdienste wel vas. Fariseërs vas. Moslems vas. Rooms -Katolieke vas. Die ernstigste, godsdienstige ekstremiste vas… gereeld!
As jy 'n oorsig doen oor die onderwerp van vas in die Skrif, sal jy agterkom dat die Skrif nie baie daaroor sê nie. En sommige van dit, is nie eg nie. Die skrifgeleerdes van ongeveer die vierde eeu AD het 'n slegte gewoonte gehad om die woorde 'en vas' in Bybelse manuskripte by te voeg. Byvoorbeeld, die gedeelte in Markus 9:29 - in die 1933/53 vertaling, lui: “Hierdie geslag kan deur niks anders uitgaan as deur gebed en vas nie.” 'n Skriba het iewers gevoel dat hy 'en vas’ moet bylas. Daar is verskeie Engelse vertalings waarin dit ook so vertaal is, maar dit is nie in die oorspronklike manuskripte nie. Hierdie Skrif is dus beter vertaal in die 1983 en die nuwe 2020 vertaling. “Hy het vir hulle gesê: “Hierdie soort kan met niks anders as met gebed uitgedryf word nie.” (2020)
Ons kan iets soortelyk vind in Handelinge 10:30. In somige verses soos Matteus 17:21 en 1 Korintiërs 7:5 is daar in die latere eeue ook deur die skrifgeleerdes woorde bygevoeg. Hierdie skrifgeleerdes was so sterk beïnvloed deur die streng asketisme van hierdie vroeë platoniese denke, dat hulle seker was dat die woorde 'en vas' per ongeluk weggelaat moes wees, en dit sou dus goed wees om dit reg te stel! Met hierdie agtergrond, kom ons kyk wat die Skrif wel vir ons leer oor vas. Laat ek begin om te sê dat die Nuwe Testament ons nie uitdruklik verplig om te vas nie. Ons word deur Pauls op ‘n paar plekke aangesê om sonder-ophou te bid, maar ons word nie aangesê om te vas nie. Ek is nie seker of jy dit besef het nie! Daar is eintlik baie min instruksies daaroor!
Alhoewel die Skrif nie sê dat ons moet vas nie, impliseer dit dat Christene sal vas.
As Jesus in Matteus 6 begin praat oor die kwessie van persoonlike dissipline in ons geestelike lewens, is hy meer besorg oor die feit dat ons nie moet vas om gesien te word nie. Hy wou nie hê dat sy volgelinge huigelaars moet wees nie! Die konteks van Matteus 6 handel eintlik oor persoonlike geregtigheid. In hierdie gedeelte van die Bergpredikasie noem Jesus drie van die dissiplines - gebed, vrygewigheid en vas. Al drie van hierdie disiplines was volgens die godsdienstige orde van die dag beoefen. Die Fariseërs wou hê dat almal moet sien hoe 'regverdig' hulle is en dat hulle nie 'in die geheim' sal bid, gee of vas nie, maar sodat almal kan weet!
Dit is eers wanneer ons by verse 16 tot 18 kom dat Jesus die onderwerp van vas aanraak. Daar is 'n baie duidelike implikasie in daardie gedeelte dat persoonlike dissipline in jou geestelike lewe vas moet insluit. Jesus sê nie: "as jy vas nie ...", sê hy "wanneer jy vas ..." Hy neem eenvoudig aan dat dit in die lewe van 'n gelowige gaan gebeur. Hy neem dit as vanselfsprekend aan dat ons God se koninkryk soms bo ons onmiddellike fisiese behoeftes sal stel.
Jesus het dit self gedoen! Hy het veertig dae en veertig nagte gevas toe Hy in die woestyn deur die duiwel versoek was. Dit was ook iets wat deur die apostels beoefen is. Toe die kerk in Antiogië Paulus en Barnabas uitstuur, was dit na 'n tydperk van gebed en vas. Trouens, by enige belangrike geleentheid, wanneerookal daar ‘n belangrike besluit geneem moes word, het die vroeë Kerk hulself toegewy aan vas en gebed.
Terselfdertyd deel Jesus nie baie detail oor vas nie. Hy sê nie vir ons watter vorm dit moet aanneem, of hoe lank dit moet duur nie. Paulus, Petrus, Jakobus of Johannes ook nie. Maar ons kan in die Skrif sien dat die 'dissipline' van vas die doel het om ons in staat te stel om nader aan God te kom - om Hom te soek.
In die Bybel vind jy dat mense gewoonlik vir een dag gevas het. Hulle is so besig met die dinge van God dat hulle eers die volgende dag tyd het om te eet. Die meeste verwysings na vas in die Bybel is vir een dag. As jy iets vir God moet doen wat baie aandag verg, is dit dalk nodig om vir drie dae te vas. As jy in nood verkeer, of as iemand dood is, is jy in elk geval nie lus om te eet nie en eet jy dalk vir ‘n week niks.
Baie van ons is bekend met Daniël se vas. Hy het vir drie weke gedeeltelik gevas. Daar is net drie mans in die Bybel wat vir veertig dae lank gevas het en dit was Moses, Elia en Jesus. Al drie van hulle het die hulp van engele gehad. Niemand in die Bybel het meer as een keer in hulle leeftyd vir veertig dae gevas nie. Die vraag is dus: as jy hierdie soort uiterste asketisme nie in die Skrif vind nie, waarom probeer mense dit dan? Dit is hoofsaaklik as gevolg van die deurdringende invloed van Platonisme in die kerk.
En dit is nie wat ons in hierdie dae vir ons kerk wil hê nie.
Kom ons neem Jesus se woorde ter harte:
“Maar wanneer jy vas, salf jou kop met olie en was jou gesig, sodat jy nie die mense nie, maar net jou Vader, wat in die verborgenheid is, laat sien dat jy vas. En jou Vader, wat in die verborgenheid sien, sal jou beloon.”
In hierdie dae en tye waarin ons is en soos ons die Here meer as ooit vertrou vir herlewing, raak dit al hoe belangriker om die dissipline van vas te bedink en toe te pas. Ons wil in hierdie dae tot God roep, en die dissipline van vas sal ons help om nader aan hom te kom.
Hoe kan ons dit prakties doen?
Eerstens, wil ek hê jy moet raaksien dat die Christen se vas ‘n effektiewe toets is om te sien watter begeertes beheer het oor jou. Jy kan dit in jou eie tyd bedink, maar jy sal vind dat eet, drink, oefening en ontspanningstyd die grootste invloede het. Paulus het die antwoord wanneer hy sê: “Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar...” (1 Korintieërs 9:27)
Tweedens, onthou dat daar ‘n noue verhouding is tussen ons verstand, liggaam en gees. Hoe jy die een behandel sal die ander een affekteer. Ons weet dit tog! As ek te veel eet, maak dit my moeg en lui. As ek nie genoeg oefen nie, affekteer dit my emosies en my liggaam op ‘n negatiewe manier. Vas is 'n algemene manier om ons liggame, gedagtes en emosies te verfyn. Intermitterende vas word tans aangemoedig as 'n manier om beter gesondheid te verseker. Dit is goed vir jou, fisies en emosioneel, en dit verhoog jou geestelike bewustheid. Vas was nog nooit vir my 'n maklike saak nie, maar ek kan daarvan getuig dat toe ek vir die regte redes gevas het, my bewustheid van God se teenwoordigheid baie duidelikers was. Dalk moet ons vas deel maak van ons geestelike gewoontes?
Derdens, dit stel ons in staat om van iets (soos kos) tydelik neer te lê, sodat ons tyd het om te bid. Elkeen van ons is anders, so elkeen van ons moet besluit hoe ons dit elke dag gaan benader. Vir sommige kan dit beteken dat jy een maaltyd mis. Vir ander kan dit beteken dat jy vir ‘n dag of twee glad nie eet nie. Vir ander kan dit beteken dat jy enige vorm van TV -kyk en sosiale media -gebruik moet prysgee.
Vierdens, en die belangrikste, ondersoek jou motiewe. Hoekom vas ek? Onthou wat Spreuke sê: “Al die weë van 'n mens is onbesproke in sy eie oë, maar die een wat die geeste toets, is die Here.” Moenie vas as jy nie ernstig daaroor is nie. Dit is wat Jesus bedoel het toe hy gesê het ons moet dit in die geheim doen. Dit gaan nie net daaroor om dit iewers in 'n geheime kamer te doen nie, maar om dit om die regte redes te doen en ernstig te wees om nader aan God te kom. Hoe jy dit ook al benader, die tyd wat jy sou gebruik het om eet of drink het, word dan afgestaan om tyd met die Here te spandeer.
Beplan ‘n praktiese plan.
Moenie 'n drie-dag geen-kos-vas probeer as jy dit nog nooit gedoen het nie! Jy gaan tog nie ‘n maraton hardloop voor jy eers bietjie geoefen het nie. Dink aan die aktiwiteite in jou lewe waaraan jy baie tyd spandeer. Kies een of twee daarvan wat jy weet jy tydelik op sy kan sit om met God tyd te spandeer. Persoonlik maak dit nie vir my sin om net water te drink of alle rooivleis te los nie. Hoe gaan dit vir jou meer tyd in die dag gee om by die Here uit te kom? Sal die vas van rooivleis my tog help om beter op die Here te kan fokus? Maar iets wat ek weet effektief kan wees is om jou daaglikse sepie op TV vir ‘n rukkie prys te gee. Dit sal kosbare tyd wees wat jy saam met die Here kan deurbring!
Comments