top of page

MEER OOR ONS

Ons is 'n multi-generasie, multi kulturele gemeenskap van gelowiges in 'n klein historiese dorpie, Montagu, in the Weskaap van Suid Afrika. Ons is lief vir God die Vader, ons roem in die kruis van ons Redder Jesus

Christus en ons vind krag en vrede in mekaar se geselskap en die leiding

van die Heilige Gees. 

ONS VISIE

Wees lief vir God, wees lief vir mense en lei ander na Christus op enige

moontlike manier. 

WAT ONS DOEN

Aanbid God - Disiepelskap - Doen die Lewe saam - Reik uit na die Nasies

ONS GEMEENSKAP

Ons familie is divers en bestaan uit mense van verskillende kulture en agtergronde. Ons vier elke persoon se uniekheid deur die eenheid wat ons in Jesus Christus, deur Sy Gees het. Ons is lief vir sing en eet en geniet elke oomblik wat ons kan saam kuier. 

ONS GELOOFSVERKLARING

1. Ons glo dat die Bybel, die Woord van God is, wat deur God geïnspireer is en onfeilbaar is.

2 Timoteus 3:16   Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing,
en opvoeding om God se wil te gehoorsaam,

 

 2. Ons glo dat die Bybelse gesag hoër is as enige idee, opinie en bevinding, en is die enigste a

anvaarbare standaard vir lewe, bediening en lewenswyse in die kerk.

Heb 4:12   Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige

 tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die raakpunt tussen siel en gees,

 tussen gewrig en murg, en beoordeel die hart se voornemens en gedagtes.

 

 3. Ons glo God is die Skepper wat Homself geopenbaar het as een God, tot in Ewigheid

drie persone; Vader, Seun en Heilige Gees, onderskeibaar, maar een.

Mat 28:19     Gaan dan en maak dissipels van al die nasies,

deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun

en van die Heilige Gees, 

 

 4. Ons glo dat die Here Jesus Christus, ten volle God en Mens was, ontvang is van

die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria en die Verlosser van die hele mensdom is.

Mat 1:23   “Kyk, die maagd  sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring,

 en hulle sal Hom Immanuel  noem” - wat, as dit vertaal word, beteken ‘God is met ons.’

          

​

5. Ons glo dat God die mens na Sy beeld geskape het, dat die mens deur sonde

teen God gerebeleer het en so geestelik dood en verdorwe is en vir ewig van God geskei is.

Jes. 59:2   Maar julle sondeskuld, dit het skeiding gebring
   tussen julle en julle God. Julle sondes het Hom sy gesig

vir julle laat verberg, sodat Hy nie luister nie;

 

 6.  Ons glo dat Jesus Christus aan die kruis gesterf het, in die plek van die mensdom se sonde. 

Hy is begrawe en het op die derde dag opgestaan, en aan Sy dissipels verskyn.

1Kor. 15:1-7  Broers, ek herinner julle aan die evangelie wat ek aan julle verkondig het,

wat julle ook aangeneem het, en waarin julle ook vasstaan, waardeur julle ook verlos word;

mits julle vashou aan die evangeliewoord wat ek aan julle verkondig het –

tensy julle vergeefs tot geloof gekom het. 

    Want die wesenlike wat ek ontvang en ook aan julle oorgelewer het, is:
  •Christus het vir ons sondes gesterf, volgens die Skrifte;  Hy is begrawe
  en op die derde dag opgewek, volgens die Skrifte; 

en Hy het aan Sefas verskyn, en toe aan die twaalf.

Daarna het Hy aan meer as vyfhonderd broers tegelyk verskyn,

van wie die meeste nou nog leef, maar sommige al ontslaap het. 

Daarna het Hy aan Jakobus verskyn, en toe aan al die •apostels
 
 

 7.  Ons glo Jesus Christus het opgevaar  na die hemel, en dat Hy as verhoogde hemelse Hoëpriester,  persoonlik, letterlik en liggaamlik vir ‘n tweede keer sal terugkeer aarde toe.

1Tess. 4:13-18  Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie,

sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie.

Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so

diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem.

Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here:

Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here,

sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie.

Want die Here self sal met 'n luide bevel, met die stem van 'n aartsengel,

en met 'n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom,

en diegene wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. 

Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke

opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet.

En so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.

 

8. Ons glo dat die Heilige Gees sondaars oortuig van hulle sonde soos

Jesus Christus dit aan hulle openbaar, sodat hulle deur genade en belydenis

van hulle sonde, deur geloof in die volmaakte werk van Jesus aan die kruis,

vergifnis van hulle sonde kan ontvang en geestelik herskep word.

Ef 2:8  Want uit genade is julle verlos, deur geloof.

En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. 

 

2 Kor 5:17 Daarom, as iemand in Christus is, is hy 'n nuwe skepping.

Die ou dinge het verbygegaan – kyk, hulle het nuut geword. 

 

Joh 15:16  Julle het My nie uitgekies nie, maar Ek het julle uitgekies en julle aangestel

om uit te gaan en vrug te dra, vrug wat blywend is, sodat,

wat julle die Vader in my Naam vra, Hy dit aan julle mag gee. 

 

9.  Ons glo dat die doping met die Heilige Gees, afsonderlik staan van verlossing

en dat dit ‘n geskenk is van die Heilige Gees, wat beskikbaar is aan alle gelowiges,

en noodsaaklik vir gelowiges is om hulle instaat te stel om goeiewerke

in die Liggaam van Christus te kan doen.

Han. 19:2-6     Hy het hulle gevra: “Het julle die Heilige Gees ontvang toe julle gelowig geword het?”

Hulle het hom geantwoord: “Nee, ons het nie eers gehoor dat daar 'n Heilige Gees is nie.”

Toe vra hy: “Met watter doop is julle dan gedoop?” “Met die doop van Johannes”, het hulle geantwoord.    

Daarop het Paulus gesê: “Johannes het gedoop met 'n bekeringsdoop,

toe hy vir die volk gesê het om te glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Jesus.”

Nadat hulle dit gehoor het, is hulle in die Naam van die Here Jesus gedoop.    

Paulus het hulle die hande opgelê, en die Heilige Gees het oor hulle gekom,

en hulle het in tale gespreek en geprofeteer. 

Han.10:45- 47  Die gelowiges uit die besnydenis, almal wat saam met

Petrus gekom het, was uiters verbaas dat die gawe van die Heilige Gees selfs

op die heidene uitgestort is. Hulle het immers gehoor hoe hulle in tale spreek en God loof.

Toe sê Petrus: “Niemand kan tog verhinder dat hierdie mense,

wat net soos ons die Heilige Gees ontvang het, met water gedoop word nie?” 
 

 

10.  Ons glo dat die Heilige Gees in elke gelowige woonagtig is en dat hy hulle

leidsman en vertrooster is, want deur die uitdeel van die gawes van die Gees

word gelowiges gelei om die vrug van die Gees deur hulle lewens te demonstreer.

1 Kor.3:16  Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is, en dat die Gees van God in julle woon nie? 

 

1Kor.6:19  Of weet julle nie dat julle liggaam, wat julle van God ontvang het,

'n tempel is van die Heilige Gees in julle, en dat julle nie aan julleself behoort nie? 

​

Gal 5:22-23  Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld,

vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Teen hierdie soort dinge is daar nie 'n wet nie.

 

11. Ons glo dat die werking van die gawes van Christus en die Heilige Gees

onontbeerlik is tot die bediening van die kerk en wat uitgedeel word

na aanleiding van gelowiges se begeertes, soos wat Christus en die Gees wil.

Eph 4:11-13  En Hy het sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste,

en ander as herders en leraars gegee,  om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk,

om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof

en in kennis van die Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming

is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. 
 

 

1 Kor 12:8-12   Aan een word 'n woord van  wysheid deur die Gees gegee,

aan 'n ander 'n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof
deur dieselfde Gees, aan 'n ander gawes van genesingdeur die één Gees; 

aan een dinamiese kragte, aan 'n ander weer die gawe  van profesie;

aan een die onderskeiding  van geeste, aan 'n ander verskillende soorte  tale,

en aan nog 'n ander die uitleg  van tale.

Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen

afsonderlik uitdeel volgens sy wil. Want soos die liggaam 'n eenheid is,

maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam,

alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met Christus. 

 

12.  Ons glo in gebed as gelowiges wat op spesifieke tye saam bid tot God,

en as individueë voortdurend bid om in lyn te kom

met God se wil en so te hoor wat God van hom/haar vra.

Ef 6:18   By elke geleentheid wanneer julle bid en smeek, moet julle telkens deur die Gees bid.

Daarom moet julle waaksaam wees, deur volhardend te pleit vir al die heiliges. 

 

13.  Ons glo dat die samekoms van gelowiges, die kerk, die plek is waar alle gelowiges

saamkom in liefde, soos een groot familie om die evangeliebediening

van Jesus Christus na te streef.

Kol. 3:15-17 Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer.

As lede van een liggaam, is julle juis daartoe geroep. En wees dankbaar.

Laat die woord van Christus in sy volle rykdom in julle woon.

Leer en vermaan mekaar, in alle wysheid, deur met dankbare harte psalms,

lofgesange en geestelike liedere tot eer van God te sing. 

En wat julle ook al doen, in woord of daad, doen alles in die Naam van die Here Jesus,

terwyl julle God die Vader deur Hom dank.
 

Heb 10:24-25  Laat ons ons ook daarop toelê om mekaar aan te spoor tot liefde

en goeie dade, sonder om ons eie samekoms te verwaarloos, soos sommige se gewoonte is;

laat ons eerder mekaar aanmoedig, soveel te meer nog namate julle dié dag sien nader kom!

 

14. Ons glo in die waterdoop, dat onderdompeling die manier is waardeur die gelowige

bely dat hy/sy glo in die dood van Jesus Christus, dat Hy begrawe is en opgestaan het.

Dit is dan ook die gelowige se uitdrukking van geloof en uitvoering van Sy opdragte.

Hand. 8:12  Maar toe hulle Filippus se verkondiging van die evangelie van die

koninkryk van God en die Naam van Jesus Christus glo, is mans sowel as vroue gedoop. 

 

Hand 8:35-36 Filippus het begin praat, en vanuit hierdie Skrifgedeelte die evangelie

van Jesus aan hom verkondig. Langs die pad kom hulle by 'n plek waar daar water is.

Die eunug sê toe: “Kyk, water! Wat verhoed dat ek gedoop word?” 

​

15. Ons glo in die Nagmaal, waar brood en wyn die simbole is waardeur

ons herinner word aan Jesus se offer, vir selfondersoek en danksegging.

1 Kor.11:23-28 Ek het van die Here ontvang, wat ek ook aan julle oorgelewer het:

Die Here Jesus het in die nag waarin Hy verraai is, brood geneem, en nadat Hy die seëngebed

uitgespreek het, het Hy dit gebreek en gesê:

“Dit is my liggaam – ter wille van julle. Doen dit om My in herinnering te bring.” 

So ook met die beker ná die ete, met die woorde:

“Hierdie beker is die nuwe verbond deur my bloed.

Doen dit, so dikwels as wat julle daaruit drink, om My in herinnering te bring.”

Want so dikwels as wat julle hierdie brood eet en uit hierdie beker drink,

verkondig julle die dood van die Here, totdat Hy kom.    

Daarom, wie op onwaardige wyse die brood eet of uit die beker van die Here drink,

sal skuldig wees teenoor die liggaam en die bloed van die Here.

Maar laat elkeen homself ondersoek, en daarvolgens van die brood eet en uit die beker drink. 
 

16. Ons glo in die ewige lewe vir die wat glo, en ewige straf vir die ongelowige

wat die offer van Jesus Christus verwerp.

2 Tess 1:7-10  en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word.

Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel

saam met sy magtige engele, in 'n vuurvlam, terwyl Hy wraak uitoefen

op hulle wat God nie erken, en die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam nie. 

Hulle sal gestraf word met ewige vernietiging, weg van die aangesig van die Here

en sy magtige heerlikheid. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy kom om deur sy

heiliges verheerlik te word – ja, om deur alle gelowiges bewonder te word –

omdat ons getuienis teenoor julle geglo is.
 

 

Open. 20:11-15  Toe het ek 'n groot wit troon gesien, en Iemand wat daarop sit.

Die aarde en die hemel het van sy aangesig af weggevlug, en daar was nie meer plek vir hulle nie.

En ek het die dooies, die magtiges en die geringes, voor die troon sien staan.

Toe is die boekrolle oopgemaak. 'n Ander boekrol is ook oopgemaak, naamlik die een van die lewe.

Die dooies is, op grond van wat daar in die boekrolle opgeteken is, volgens hulle dade geoordeel.  

Die see het toe die dooies wat daarin is, teruggegee, en die dood en Hades het die

dooies wat daarin is, teruggegee. Elkeen is volgens hulle dade geoordeel.

Toe is die dood en die Hades in die vuurpoel gegooi.

Dit is die tweede dood, die vuurpoel. En as gevind is dat iemand nie in die boekrol

van die lewe opgeteken is nie, is hy in die vuurpoel gegooi.

 

 

Joh 3:16  Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het,

sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 

 

Joh 5:24  Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het,

het die ewige lewe en vir hom is daar geen veroordeling nie,

maar hy het uit die dood na die lewe oorgegaan. 

  

Rom 8:38-39 Ek is immers daarvan oortuig dat nóg dood,

nóg lewe, nóg engele, nóg magte, nóg teenswoordige nóg toekomstige gebeure,

nóg kragte, nóg hoogte, nóg diepte, nóg enigiets anders in die skepping,

ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here.

​

bottom of page